WynSA - Online, 27 July 2010

WynSA.co.za: Nederburg Wynveiling kondig gassprekers aan


Twee direkteure van Systembolaget AB, 'n Sweedse kleinhandel drankmonopolie, is vanjaar die gassprekers tydens die 36ste Nederburg Wynveiling van gesogte Kaapse wyne op Saterdag, 4 September. Swede is met 9.93% van die jaarlikse wynverkoopvolume Suid-Afrika se derde grootste wynuitvoerbestemming, 'n mark wat in die 12 maande periode tussen Mei 2009 en 2010 met 14.9% gegroei het. Die Swede koop meer wyn van Suid-Afrika as van enige ander land ter wêreld.
Die sprekers, Marie Nygren, vise-president en direkteur van aankope en aanvoerkettingbestuur en Sara Norell, hoof van aankope in die aanvoerkettingbestuur-afdeling, sal saam Systembolaget AB by vanjaar se veiling verteenwoordig. Systembolaget AB het in die middel 1800's ontstaan en is die enigste kleinhandelkanaal wat in Swede alkohol verkoop en is gestig om alkohol verwante probleme te minimaliseer deur drankverkope te beheer. Die groep bestaan uit 412 winkels en het ongeveer 4 700 werknemers in diens. Hul jaarlikse omset is 23 biljoen Sweedse Kroon (SKr), 'n bedrag van net onder R22.4 biljoen.
Beide vroue werk al drie jaar vir die maatskappy. Voordat Marie in 2007 by Systembolaget aangesluit het, was sy die uitvoerende hoof van Adara AB, 'n filiaalmaatskappy wat ten volle besit is deur Apoteket, die voormalige Sweedse apteekmonopolie. Sara het ondervinding in invoer en aanvoerkettings en was ook vir 11 jaar die direkteur van Arvid Nordquist Wine and Spirit Merchants. Tans is sy verantwoordelik vir kategoriebestuur, aankope en produkkeuse en kwaliteitskontrole, insluitende sensoriese- en chemiese analise, in.
Marie en Sara sal verder sal ook waardevolle insette lewer oor Systembolaget se missie, hul ervaring binne die toepassing van 'n doelgerigte sosiale verantwoordelikheidsprogram, asook kommentaar op toekomstige tendense. Hulle kommentaar sal Suid-Afrika se sukses in die Sweedse mark in perspektief stel, met die klem op die wynkategorie en sy groei.
"Die besoek aan Suid-Afrika gee die geleentheid om kommentaar op die Suid-Afrikaanse wynbedryf te lewer in die konteks van 'n Europese monopolie," sê Marie. "In die strewe na ons doel om 'n gesonde drankkultuur te skep, wil ons mense inspireer om 'n belangstelling te ontwikkel in wat hulle drink en te fokus op kwaliteit eerder as kwantiteit, 'n beginsel wat ek voel by 'n gesogte wyngeleentheid soos die Nederburg Wynveiling pas."

Add comment